South African Marfan Syndrome Organisation     Suid-Afrikaanse Marfansindroom Ondersteuningsgroup  

     
 


 

Verklarings van Marfansindroom terme


  Aandagtekort-afwyking
  afwyking waar die aandagsduur baie kort is. Soms verbind met hiperaktiwiteit.
  Terug na bo


  Ambliopie
  luioog, waar die brein 'n swak oog ignoreer.
  Terug na bo


  Aneurisme
  (aortiese dilasie) ballon wat in 'n aar vorm weens druk van die bloed teen 'n swak aarwand.
  Terug na bo


  Aorta
  hoofslagaar, waardeur die bloed vanaf die hart gepomp word.
  Terug na bo


  Aortiese boog
  gedeelte van die aorta tussen die stygende aorta en die dalende aorta. Arterieë na die kop en arms vertak hier.
  Terug na bo


  Aortiese bron
  gedeelte van die aorta waar dit uit die hart styg net agter die aortaklep en insluitend die Valsalva-sinusse.
  Terug na bo


  Aortaklep
  driekuspiedeklep (drie slippe) tussen die hart en aorta
  Terug na bo


  Apikale bullae
  blaasagtige voorwerpe in die lugsakke in die boonste gedeelte van die long, veroorsaak deur verminderde rekbaarheid.
  Terug na bo


  Asetabulêre uitsteeksel
  toestand waar die toppunt van die femur te diep in die pelviese potjie lê, en selfs deur die been breek in ernstige gevalle.
  Terug na bo


  Betablokker
  medisyne (bv. Tenormin/atenolol) wat die bloeddruk laag hou en hartkloppings onder beheer hou. Mense wat aan asma ly, kan nie betablokkers neem nie, maar kan kalsiumkanaalblokkers gebruik.
  Terug na bo


  Bindweefsel
  weefsel wat dwarsdeur die liggaam gevind word en wat seker maak dat die organe hul regte grootte, vorm en kragte hou. Die hoofsoorte is kollageen (vir sterkte, vorm en stabiliteit) en elastien (vir rekbaarheid en stewigheid).
  Terug na bo


  Dalende aorta
  die gedeelte van die aorta waarin bloed afwaarts vanaf die aortiese boog na die bene vloei. Takke dwarsdeur die lengte voer bloed na organe, ruggraat, ens.
  Terug na bo


  Diagnose
  veranderlikheid (selfs in een familie) lei tot moeilikheid met diagnose. Die 1996 Ghent siektebeskrywing omskryf hoof- en bykenmerk simptome. 'n Positiewe diagnose hang af van hoofkenmerke in twee orgaanstelsels, en 'n derde orgaanstelsel moet betrokke wees.
  Terug na bo


  Displasie (heup)
  foutiewe plasing van die toppunt van die femur in die pelviese potjie.
  Terug na bo


  Disseksie
  swakheid van die aarwand, wanneer die binneste laag (intima) wegskeur vanaf die buitenste laag (adventitia) by die middelste laag (media).
  Terug na bo


  Dura
  vlies wat die omhulsel van die brein en die wand van die rugmurg vorm.
  Terug na bo


  Dura ektasie
  vergroting van die dura in die onderste gedeelte van die rugmurg weens verminderde rekbaarheid en swaartekrag wat op die spinale vloeistowwe inwerk. Die kanaal deur die werwels word vergroot.
  Terug na bo


  Eggokardiogram
  klankbeeld van die hart en aorta om vergroting en werking van kleppe te moniteer. (Dit is heeltemal veilig en pynloos.)
  Terug na bo


  Ektopie lentis
  wanplasing van die lens in die oog weens verminderde rekbaarheid en skeuring van die suspensoriese ligamente.
  Terug na bo


  Elastien
  die rekbare gedeelte van bindweefsel. Fibrillien (wat foutief is in Marfansindroom) is een van die mikrofibrille in elastien.
  Terug na bo


  Elmboog-strekking
  die strekking van die elmboog kan minder as 170° wees (hipomotiliteit) in Marfansindroom, alhoewel die gewrigte dikwels hipermotiel (oorbeweeglik) is.
  Terug na bo


  Emfiseem
  dit is verminderde rekbaarheid van die lugsakke in die longe. Dit gebeur in Marfansindroom, selfs sonder rook.
  Terug na bo


  Endokarditis
  infeksie van die hartkleppe. Antibiotika is nodig vir endokarditis-profilaksis voor tandheelkundige prosedures aan senuwees en urogenitale-operasies in Marfansindroom-pasiënte.
  Terug na bo


  FBN1
  is die geen by 15q21 op chromosoom 15 wat foutief is in Marfansindroom. Elke familie het 'n ander mutasie (fout) in dié geen.
  Terug na bo


  Fibrillien
  is 'n mikrofibril in elastien en is foutief in Marfansindroom.
  Terug na bo


  Genetiese toetse
  daar is nog geen akkurate genetiese toets vir Marfansindroom nie. Die diagnose hang af van die inagneming van die simptome.
  Terug na bo


  Gesigsvorm
  die kop is dikwels lank en smal (dolikokefalie), met holoog (enoftalmie), holwange (malaris hipoplasties), afwaarts-neigende palpebrale splete (ooglede) en òf uitstaande (prognateus), òf terugstandige (retrognateus) onder-kakebeen.
  Terug na bo


  Gloukoom
  (oophoek-gloukoom) is hoë druk in die oog as gevolg van die buitengewone plat kornea in Marfansindroom.
  Terug na bo


  Hernia
  (breuk) word veroorsaak deur verminderde rekbaarheid. Gewoonlik liesbreuke of by operasie-plekke.
  Terug na bo


  Hiperaktiwiteit
  baie Marfansindroom-pasiënte is hiperaktief, met, of sonder, aandagtekort-afwyking.
  Terug na bo


  Hipermotiliteit
  die gewrigte is dikwels oorbeweeglik, wat "slaplittigheid" veroorsaak en spontane ontwrigting kan voorkom.
  Terug na bo


  Hoof-longslagaar
  dié aar tussen die hart en long, vorm dikwels 'n aneurisme.
  Terug na bo


  Iridononese
  trillings van die iris gebeur dikwels met ektopie lentis.
  Terug na bo


  Kalsiumkanaalblokker
  medisyne wat in plaas van 'n betablokker gebruik kan word om bloeddruk laag te hou en hartkloppings te stop.
  Terug na bo


  Katarak
  (preseniële) is oogpêrel waar die lens in die oog baie vroeg dynsig word in Marfansindroom.
  Terug na bo


  Kornea
  oophoek-gloukoom word veroorsaak deur 'n buitengewone plat kornea in Marfansindroom.
  Terug na bo


  Liggaamsbou
  Marfansindroom-pasiënte is dikwels lank en maer met lang bene en arms. (Armspanwydte/liggaamslengte ratio meer as 1.05 en groot onder- tot bo-liggaam-verhouding.) Lang vingers gee die duimteken (duim steek verby die vinger/palmgrens in 'n vuis) en polsteken (duim en pinkie kom bymekaar om die teenoorgestelde pols).
  Terug na bo


  Marfan, Antoine Bernard-Jean
  Franse kinderarts wat in 1896 die spier-skelet simptome van 'n 5-jarige kind, Gabrielle, beskryf het. Die afwyking is later arachnodactyly (spinvingers) genoem en nog later (in 1938) Marfansindroom.
  Terug na bo


  Meiose
  verminderde kykersaamtrekking as gevolg van hipoplastiese siliêre spier (die spier wat die pupil kleiner maak in skerp lig).
  Terug na bo


  Miopie
  die lang (van voor tot agter) lengte van die oogbal veroorsaak dikwels bysiendheid (miopie).
  Terug na bo


  Mitralis annulus
  die gedeelte rondom die mitralisklep verkalk (kalsifisering) teen 'n jong ouderdom.
  Terug na bo


  Mitralisklep
  die klep tussen die boonste en onderste kamers in die linkerkant van die hart is dikwels misvormd (mitralisklep-prolaps) en veroorsaak klikgeluide (van agteruitbolling), geruise (van regurgitering - lekke) en hoë bloeddruk. Tagikardie (vinnige of onreëlmatige harttempo - hartkloppings) gebeur dikwels en word soms met angsafwyking verbind, want die aanvalle is skrikaanjaend.
  Terug na bo


  Oefening
  slegs ligte oefening word aanbeveel in Marfansindroom. Kontaksportsoorte kan lei tot botsings wat gebarste aneurismes en ektopie lentis veroorsaak. Isometriese oefening (teen iets beur en gewigoptel) kan tot gebarste aneurismes lei en veeleisende oefening veroorsaak te veel druk op die hart en swak gewrigte.
  Terug na bo


  Ortodontiese behandeling
  die smal kakebeen en hoë verhemelte veroorsaak beknopte tande en ortodontiese behandeling word vereis.
  Terug na bo


  Outosomale dominant
  genetiese afwyking waar elke kind van 'n lyer 'n 50% kans het om dit te erf.
  Terug na bo


  Pektus
  die lang ribbes forseer die borsbeen (sternum) òf binnewaarts om 'n holbors (pektus excavatum), òf buitewaarts om hoenderbors (pektus carinatum) te vorm.
  Terug na bo


  Pes planus
  swak ligamente veroorsaak pronasie (binnewaartse draaiing van die voet) met pes planus (platvoet).
  Terug na bo


  Pneumotoraks
  platval van die long, dikwels spontaan.
  Terug na bo


  Retinaloslating
  die retina kom dikwels gedeeltelik los na operasies om Marfansindroom-probleme reg te stel, bv. Ektopie lentis, katarak, ens.
  Terug na bo


  Saamgestelde oorplanting
  oorplanting van die aortaklep en stygende aorta in 'n operasie.
  Terug na bo


  Skoliose
  meeste Marfansindroom-pasiënte het minstens 'n mate van skoliose (buiging van die ruggraat), maar dit kan baie erg wees, met spodilolistese (verskuiwing van werwels teen mekaar).
  Terug na bo


  Spontane mutasie
  alhoewel Marfansindroom deur outosomale dominante oorerwing oorgedra word, kan dit soms spontaan (sonder enige duidelike rede) gebeur in 'n persoon. Dié pasiënte is gewoonlik erg aangetas en kan dit aan hul kinders gee.
  Terug na bo


  Sternum
  borsbeen wat misvormd kan wees in pektus excavatum of pektus carinatum.
  Terug na bo


  Strabismos
  skeelheid word veroorsaak deur verskille tussen die gesig in die twee oë, of swak spiere/ligamente. (Sien ook ambliopie.)
  Terug na bo


  Stygende aorta
  gedeelte van die aorta (bron ingesluit) waar dit styg uit die hart, voor dit buig by die boog en afwaarts gaan in die dalende aorta.
  Terug na bo

  Vel
  die vel skort rekbaarheid en rekmerke (striae atrofie) ontwikkel dikwels.
  Terug na bo


 
Tuis- blad SAMSO Nuus Marfan- sindroom Woorde- skat Waar- skuwings Vrae en Antwoorde Diagnostiek Program Skakels Borge

Home SAMSO News Marfan Syndrome Definitions Warnings FAQs Diagnosis Tool Links Sponsors