|
Wat is Marfansindroom?
Marfansindroom is 'n erfbare afwyking van bindweefsel wat
baie orgaanstelsels aantas, waaronder die skelet, longe, oë, hart en
bloedvate. Hierdie toestand kom in sowel mans as vroue voor, en tas
lede van alle rasse en etniese groepe aan. Een uit elke 3000 tot 5000 van
die bevolking ly aan Marfansindroom
Wat is die simptome?
Die ernstigste probleme wat met Marfansindroom geassosieer word,
het met die hart en bloedvatstelsel te doen. Die twee blaadjies van
die mitralisklep kan agteruit dein wanneer die hart
saamtrek. Dit staan bekend as "mitralisklepprolaps". Hierdie
mitralisklep-afwyking kan lei tot kleplekkasie asook ongereelde
hartritme.
Die hoofslagaar (die aar wat bloed van die hart wegvoer) is in
die algemeen wyer en swakker in pasiënte met Marfansindroom. Die
verwyding neem geleidelik toe en kan lei tot lekkasie van die aortiese klep.
Skeure kan ook in die wand van die hoofslagaar ontstaan (disseksie).
In sulke gevalle word chirurgiese ingryping
benodig. Marfansindroom manifesteer in die skelet in die vorm
van, onder andere, kromming van die ruggraat, wanvorming van die
borskas, buitengewone lengte en slapheid van litte.
Marfan-lyers is gewoonlik bysiende. Ongeveer die helfte van alle
pasiënte toon ook verplasing van die ooglens.
Terug na bo
Hoe word Marfansindroom gediagnoseer?
Marfansindroom is moeilik diagnoseerbaar, omdat daar geen
laboratoriumtoetse vir die afwyking bestaan nie. Dit manifesteer
boonop in 'n groot verskeidenheid simptome. Die meeste
Marfan-pasiënte toon nie die volle reeks simptome en komplikasies
van die afwyking nie.
Diagnose word normaalweg gemaak na 'n sorgvuldige liggaamlike
ondersoek van al die betrokke orgaanstelsels, met die gebruik van
toetse soos die eggokardiogram (klankgolfbeeld van die hart),
"spleetlamp"-ondersoek deur 'n oogarts en X-strale van die
skelet.
Gebruik gerus die diagnostiek-program op hierdie webblad om 'n
ordentlike diagnose te maak.
Terug na bo
Hoe word Marfansindroom behandel?
Daar is geen geneesmiddel vir die afwyking nie, maar sorgvuldige
mediese beheer kan die lewensverwagting verleng en lewensgehalte
verhoog.
Alle Marfan-lyers behoort jaarliks 'n eggokardiogram te ondergaan om die grootte en
werking van die hart en hoofslagaar na te gaan. Die aanvanklike
"spleetlamp"-oogondersoek behoort deur gereelde opvolgtoetse gevolg
te word, soos benodig. Die skelet behoort sorgvuldig gekontroleer te
word, veral gedurende die kinder- en tienerjare.
Medikasie in die vorm van 'n betablokker kan
voorgeskryf word om die bloeddruk te verlaag en druk op die
hoofslagaar te verminder. Lyers met mitralisklepprolaps behoort
antibiotika te neem wanneer hulle tandheelkundige, urologiese, of
genitaliese behandeling moet ondergaan om hartvliesontsteking te
voorhoed. Om besering van die hoofslagaar en ooglense te voorkom,
moet veeleisende oefening en kontaksportsoorte vermy word.
Terug na bo
Wat veroorsaak Marfansindroom?
Een abnormale geen (mutasie) veroorsaak die afwyking. In 75
persent van gevalle word dit van ouer, wat self daaraan ly,
geërf.
Marfansindroom is 'n "outosomaal-dominante" afwyking. Dit beteken
dat al die kinders van 'n lyer 50 persent kans het om dit te erf.
Verklaring
SAMSO aanbeveel behandeling vir simptome van Marfansindroom (bv. betablokkers om bloeddruk laag te hou, aortiese vervanging op 5.5cm, gereelde ondersoeke, ens).
Dit is belangrik om op te let dat dié aanbevele is as gevolg van onafhanklike navorsing (kontak SAMSO vir besonderhede), asook die ervaring van SAMSO lede. Ons probeer om lewens te red en om Marfan-pasiënte te help - nie om farmaseutiese maatskappye en dokters/hospitale ryk te maak nie.
|